Τετάρτη, 22 Μαρτίου 2017

Geestelike skatte van die Groot Vastyd in die Ortodokse Kerk



Neem jou kruis op

Vandag, op die derde Sondag van die Groot Vastyd, die Sondag van die Kruisverering, hoor ons die Evangelie van Markus en die prikkelende woorde van Jesus Christus  oor wat dit beteken om sy volgelinge te wees. Hy vra ons om onself te verloën, ons kruis op te neem en Hom te volg, en waarsku ons dat as ons ons eie lewens wil red ons dit vir seker sal verloor.

take up your cross

Dit is ontstellende woorde en herinner ons aan die groot prys wat ons moet betaal daarvoor om ‘n Christen te wees. Al te dikwels kan ons wat dit beteken om jou kruis op te neem, geringskat en vergeet dat die Kruis vir Christus iets was wat Hom sy lewe gekos het. En Hy herinner ons in hierdie Evangelielesing daaraan dat as ons sy volgelinge wil wees, dit ons ons lewens sal kos.
Ons kan miskien wonder daaroor. Is ons lewe nie ‘n gawe van God nie, en wil Hy dan nie hê dat ons voluit moet lewe nie? Waarom sou Hy van ons verwag om ons lewe te verloën?Wil God regtig hê dat ons misrabel moet wees? Jesus gee ons ‘n leidraad tot hierdie paradoks deur vir ons te sê dat “elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, sal dit red.”
Jesus Christus het gekom om ons ‘n oorvloed van die lewe te bring en hulle in die grafte tot die lewe te herstel, soos ons met Pasga gaan sing. Maar ten einde hierdie gawe van lewe te ontvang, moet ons eers al ons neigings tot die sonde afsterf, ons eie selfsugtigheid en die baie maniere waarop dit ons lewens deurdring het, versaak, en bereid wees ons Christus waarlik te volg. Wat dit beteken, sal vir elkeen van ons verskillend wees, maar ons weet dat daar geen ware lewe is wat nie beteken om vir jouself te sterf nie. En ons weet ook dat deur dit te doen, ons die enigste lewe ontvang wat werklik die moeite werd is om te hê.

In die Paradys van ouds het die vyand my deur ‘n boom kaal gestroop, want want toe ek daaraan proe, het dit die dood gebring. Maar nou is die Boom van die Kruis, wat die kleding van die lewe vir die mensdom dra, op die aarde geplant, en die hele wereld met alle vreugde vervul. O volke, wanneer julle sien dat dit vereer word, laat ons eenstemmig en met geloof tot God uitroep: “Sy huis is vol heerlikheid.”
Uit die Mette vir die Sondag van die Kruisverering
Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 19  Maart  2017

Markus 2:1-12
Vandag, op die tweede Sondag van die Groot Vastyd, wat ook die Sondag van die Heilige Gregorius Palamas is, hoor ons die Heilige Markus se beskrywing van die genesing van die verlamde. Daar word vir ons vertel hoe hierdie man deur sy vriende na Jesus gebring is en, vanweë die skare in die huis waar Jesus was, moes hy deur die dak in die huis neergelaat word. Ons word vertel dat Jesus Christus op die geloof van die man se vriende geantwoord het deur vir die verlamde te sê dat sy sondes vergewe is –iets wat die skrifgeleerdes kwaad gemaak het, want net God kan sondes vergewe- en hom later beveel het om op te staan en te loop.

Christ-cures-the-paralytic

Terwyl ons op ons Vastydtog voortgaan, gee die Kerk vir ons hierdie lesing om ons daaraan te herinner dat ons almal siek is en genesing nodig het. Die binnekoms van die sonde in die wêreld, en die verlies aan die paradys, waaraan ons aan die begin van die vas herinner is, het beteken dat ons menslike natuur bedorwe en siek geraak het. Die bekering waartoe ons geroep word, is wesenlik ‘n manier waarop ons genees kan word deur Christus, die Goddelike Geneesheer.
‘n Mens moet daarop let dat hierdie verlamde deur sy vriende na Jesus gebring is. Hy kon nie op sy eie kom nie en dit is in antwoord op hulle geloof dat Christus hom genees het. Ook ons het ander nodig om ons te help om Christus te nader, om ons te help om ons eie behoefte aan genesing te erken, en tot Hom uit te roep. Ons kan dit nie op ons eie doen nie. Die dienste van die Kerk in hierdie Vastyd, en die middele tot bekering wat Sy ons bied, is nie maar net daar om bloot ‘n groter las op ons lewens te plaas nie, of om ons belangrik te laat voel oor ons eie asketiese pogings nie. Dit is veelmeer daar om ons te help om ons te bekeer, om ons te help kom op ‘n plek waar ons –nie net in woorde nie, maar in die diepte van ons harte – ons eie behoefte aan genesing besef en ons dan so bloot te stel aan die Goddelike Geneesheer wat daarna verlang om ons te genees.


In die tyd van onthouding, het U as Lig opgegaan, o Christus, vir hulle wat in die duister van die sondes wandel. Toon ons ook die deurlugtige dag van u Lyding, sodat ons tot U mag roep: “Staan op, o God, en ontferm U oor ons.”
Uit die vir die Lofpsalms vir die Mette van die Sondagoggend van die Tweede Sondag van die Groot Vastyd
Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 12 Maart 2017


Met die eerste Saterdag van die Vastyd word die wonder van die koliwa gedenk. Die keiser van die Romeinse ryk, Julianus die Afvallige, (331/332 – 26 363), het die Romeinse ryk probeer terugbring na die voor-Christelike tyd deur die herinstelling van die heidense godsdienste van destyds en hy wou die Christendom in die ryk uitroei. Een van sy pogings om die Christendom te ondermyn, was om voor die Vastyd al die kos op die markte met die bloed van offers aan die gode te besprinkel, sodat die Christene so verplig sou wees om deel te wees van die gebruike van die heidense tempeloffers. In die nag het die biskop van Konsantinopel ‘n droom gehad waarin die Heilige Theodoor die Rekruut, ‘n geliefde Martelaar vir Christus, aan hom verskyn het en voorgestel het dat die Christenbevolking koliwa eet in plaas van wat op die markte te koop was. Koliwa was ‘n manier van koring berei wat kenmerkend was van die gebied waar die Heilige Theodoor grootgeword het. Die sakke met koring was nie met die offerbloed besmet nie. So het die biskop toe die Christene van die stad in kennis gestel van wat hulle te doen staan en so was niemand aandadig aan die meedoen aan heidense praktyke tydens die vastyd nie.
By die Afrikaanse Liturgie verlede Saterdag in die kapel van die Heilige rafael is die koliwa, pragtig deur Emilia Smuts voorberei, geseën en agterna genuttig en het Magdalena Steyn die pragtige foto daarvan geneem.
  

Vandag, op die Sondag van die Ortodoksie, hoor ons van die roeping van Filipus en Natánael, en veral van Jesus se ontmoeting met Natánael. Natánael het aanvanklik Filipus se berig dat hy die Messias gevind het, betwyfel. Dit was egter sy persoonlike ontmoeting met Jesus Christus wat hom oortuig het dat hy waarlik die Messias van wie die profete gepraat het, gevind het.
Hiedie ontmoeting toon vir ons dat dit net deur ‘n persoonlik ontmoeting met Jesus Christus is dat ons Hom waarlik sal sien vir Wie Hy is. Ontmoetings van hierdie aard gebeur egter nie gewoonlik sommer so nie. Terwyl God deur ons verdediging kan breek en onverwags na ons kan kom, is ons geestelike sig in werklikheid so verdof dat ons nie die baie maniere waarop Hy na ons toe kom, herken nie. Verder kom Hy na ons toe op ‘n besondere wyse in die Goddelike Liturgie, maar in watter mate herken ons Sy teenwoordigheid en reageer ons op gepaste wyse teenoor Hom?

Die koepel 2

Om die Here te herken wanneer Hy kom, is nie maar net ‘n intellektuele erkenning van Hom nie, al is dit ook belangrik. Dit gaan veelmeer oor die ontwikkeling van ‘n innerlike oog van die verstand waarvan die Heilige Paulus praat wanneer hy sê:
….dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping (is). (Ef: 1:17-18)
As ons God waarlik op hierdie manier wil sien, moet ons bereid wees om ons harte te reinig, wat dan die doel van die Vastyd is. Deur ons begeertes in toom te hou, afleidings minder te maak, en meer tyd met Hom deur te  bring, kan ons leer om ons denke tot bedaring te bring sodat ons meer ontvantlik word vir die baie maniere waarop God na ons toe kom.

Om te sien, is goed genoeg vir geloof. Al wat jy hoef te doen, is om met Hom te praat, en jy sal soveel meer gereed wees om te bely en sonder aarseling te sê dat Hy waarlik die Verwagte is. Maar ons moet ook glo dat daar ‘n goddelike en ontuitspreeklike genade vloei uit die woorde van ons Heiland, wat vir sy hoorders so aantreklik was ……. Want omdat Sy woord kragtig is, is dit ook doeltreffend om te oortuig.
Die Heilige Cyrillus van Alexandrië
Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 5 Maart 2017

Sien ook

  
The Great Lent in the Orthodox Church, “mother of chastity, accuser of sins, advocate of repentance, life of the angels and salvation of men” - Like Moses, Elijah, Daniel & the Lord... 

A Deer Lost in Paradise
LIVE, BEYOND THE LIMITS!
 

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου